Monday, 5 July 2010

Waar begin ek?

My nuwe gedetermineerdheid om Koreaanse te leer, en die saadjie vir hierdie blog, het hier begin.

Ek het ook vir my sekere boeke gekry wat ek dink belangrik gaan wees vir my selfstudie in Koreaans. Hollym se "Alive Korean Language"-reeks is die onderbou vir my studie en dit is waarop ek gaan fokus, veral nou tydens my vakansie. Dis vier boeke wat elk op een van die taalvaardighede (skryf, lees, luister, praat) fokus.

Ek vul my studie aan met ander boeke: Tuttle se Korean in a Hurry, Darakwon se Korean Picture Dictionary, Tuttle se Making Out In Korean en 'n woordeboek. Ek het ander boeke ook, maar ek gaan fokus op die genoemde boeke. Making Out In Korean is 'n boekie waarmee ek deesdae in my rugsak rondloop en so dan en wan deur blaai. Dis 'n oulike boekie omdat die uitdrukkings bevat wat in geen ander formele boek of woordeboek te vind is nie.

Verder probeer ek om so af en toe 'n Koreaanse TV-program of film te kyk. Ek gebruik Engelse onderskrifte, maar probeer luister na die Koreaanse woorde, en probeer om woorde of uitdrukkings te herken.

Waar begin mens?

Wanneer jy Koreaans wil leer is die eerste en belangrikste stap om die Koreaanse alfabet 한글 te leer. 한글 is 'n baie maklike skrif omdat dit foneties is, soortgelyk aan die manier wat Afrikaans die Romeinse letters gebruik. Daarinteen is Engels baie moeilik omdat Engelse woorde nie konsekwent uitgespreek word volgens die Romeinse letters waaruit die woord gebou is nie. Byvoorbeeld "through," "blue," "crew," "flu," "flew," "boo" gebruik elk 'n eiesoortige spelling om een vokaal te verteenwoordig. In Afrikaans het ons twee maniere om hierdie klank te spel, die algemene "oe" en partykeer "u"; byvoorbeeld "boer" en "mugu." In Koreaans is daar slegs een karakter was hierdie vokaal verteenwoordig: ㅜ.

Die Internet is vol webblaaie waar jy 한글 kan leer. Hier is een bladsy (Omniglot), met baie handige skakels.

Ek het lang gelede reeds geleer om 한글 te lees. My leesspoed is nog effe stadig, maar dit is vinniger, sou ek sê, as die tipiese 미국 (uitlander). Die groot geheim om jou leesspoed te verbeter is om nie een karakter op 'n slag te lees nie, maar om een lettergreep op 'n slag te lees. Byvoorbeeld, my naam bestaan uit vyf klanke: ㅅ+ㅏ+ㅇ+ㅋ+ㅜ. In Koreaans word lettergrepe saam gegroepeer. My naam bestaan uit twee lettergrepe: 상쿠. In plaas daarvan om elke karakter te lees, lees ek 'n groep karakters -- 'n hele lettergreep op 'n slag. Sodoende versnel jou leestyd aansienlik. Aanvanklik gaan dit bietjie stadig gaan omdat jy nog eers die klanke moet erken, maar eens jy die klanke gemaklik herken is die lees redelik eenvoudig.

Later kom 'n mens agter dat sekere klanke mekaar se uitspraak beïnvloed, wat dan jou spoed bietjie breek. Dis waar ek nou is.

Welkom

안녕하십니까. 저는 상쿠 입니다. 저는 남아공 사람 입니다.
Vrede, het jy? Ek Sanko is. Ek Suid-Afrika mens is.
“Goeie dag. Ek is Sanko. Ek is ’n Suid-Afrikaner.”

Nou ja, ek het myself belowe dat ek gaan meer tyd spandeer om Koreaans te leer. My vakansie het gister begin, so vandag is ’n goeie dag om amptelik die Koreaans by die horings te vat en vir hierdie doel het het ek hierdie blog begin.

Hoekom is hierdie blog in Afrikaans? Seker omdat ek soveel van my tyd in Engels spandeer. Om die blog in Afrikaans (en Koreaans) te skryf, gee my dus ‘n geleentheid om in oefening te bly met Afrikaans. Ek wonder egter hoe dit my aanleer van Koreaans gaan beïnvloed. Ek dink die meeste van die tyd in Engels, die grootste deel van my leesstof is in Engels, en my Koreaanse taalaanleerboeke is ook in Engels. Dalk help hierdie Afrikaanse blog om Koreaans beter te integreer in my tweetalige-leksis; of dalk gaan dit die taalaanleerproses strem. Ons sal maar sien.