Thursday 21 October 2010

Misgis vir 'n Koreaner

Twee dae terug het ek 'n lekker ervaring gehad. Ek het gestaan en wag by die moltreinplatvorm vir die trein om te kom toe 'n ou Koreaanse oom my kom vra hoe om van die huidige stasie na 'n ander stasie te kom. Ek verduidelik toe aan hom dat hy twee stasies daarvandaan moet oorskuif na 'n ander lyn, waarvandaan hy na sy gekose stasie kan gaan. Hy vra my toe of hy in die regte rigting gaan, ek antwoord toe nee, en sy toe aan hom dat hy "on the other side" moet wees. Ek weet nie hoe om "aan die anderkant" in Koreaans te sê nie, so toe sê ek dit maar in Engels. Dis eers toe ek dit sê dat die oom op kyk en sien dat ek nie Koreaans is nie. Hy was baie verbaas en het gelag toe hy uitroep -- "jy's nie 'n Koreaner nie!" 

Ek het dit geniet om met my karige Koreaans genoegsaam te kon kommunikeer dat iemand vir 'n oomblik my as 'n Koreaner misgis het. Ek neem aan die oom was bietjie bysiende / versiende (?), die dan dat hy my misgis het vir 'n Koreaner. Ons het ook die meerderheid van die gesprek na sy moltreinlynkaart gekyk.