Friday 29 April 2011

Opgewonde

Ek is sommer opgewonde omdat ek vandag 'n taxi-bestuurder redelike ingewikkelde instruksie gegee het, en hy my gemaklik verstaan het. Dis geensins vreemd vir my om aanduidings vir taxi-bestuurders te gee nie, maar vandag se instruksies was baie meer ingewikkeld as wat ek al ooit van te vore gegee het. Gewoonlik sê ek eenvoudig vir die taxi-bestuurder waarheen ek wil gaan. Dis 'n eenvoudige sinskonstruksie: pleknaam + gaan + wil hê asseblief: X ga-joosseyo.

Vanmiddag se uitspraak was baie meer kompleks. Ek het aan die taxi-bestuurder verduidelik dat ek na twee punte toe wil gaan. Eerstens moet ons iemand gaan optel op 'n spesifieke plek (by 'n sekere treinstasie, by die universiteit se kampusbushalte) en daar vandaan kan ons na die eindbestemming toe gaan. Die proses het vereis dat ek nie bloot 'n eenvoudige sin maak nie, maar 'n gekombineerde sin -- vermoedelik my eerste gekombineerde sin in Koreaans. Met my suksesvolle kommunikasie is ek sommer weer opnuut geïnspireer om my trae studie van Koreaans meer ernstig op te neem. Die sinskonstruksie en gepaartgaande woordeskat is iets wat ek slegs hierdie afgelope week of twee geleer het en nou van gebruik gemaak het.

Ek dink hierin lê die sukses van 'n ekstra taal aanleer -- wanneer jy dit met sukses gebruik, motiveer dit jou om dit nog meer te gebruik en meer te leer. Dis daardie gevoel van suksesvolle toepassing wat 'n mens motiveer om aan te hou. Ondanks my Koreaans nog baie beperk en elementêr is, is dit lekker om die bietjie vermoë wat ek wel het, uit te toets.

Sunday 20 March 2011

Tik in Koreaans

Soos wat 'n mens meer gemaklik raak met Hangeul, raak jou behoefte om in Koreaans te kan tik (en sodoende aanlynwoordeboeke te kan gebruik) aansienlik groter. Onder aan is twee videos wat 'n mens hiermee kan help.





Jy het natuurlik 'n Koreaanse sleutelbord nodig. Indien jy nie 'n Koreaanse sleutelbord het nie kan die volgende prentjie jou waarskynlik help totdat jy 'n Koreaanse sleutelbord in die hande kan kry.

Alternatiewelik kan 'n mens seker Hangeulplakkers koop wat jy op jou sleutelbord kan plak. (Sien die advertensie vir Hangeulsleutelbordplakkers langsaan.)

Ek gebruik graag Naver se Engels/Koreaanse aanlynwoordeboek: http://endic.naver.com

'n Ander waardevol webblad is die Korean Wiki Project.

Ek gebruik ook by tye Google se vertalingsfunksie.

Wednesday 22 December 2010

Koreaanse vloekwoorde

In my eie gesprekvoering, hetsy Afrikaans of Engels, gebruik ek nooit vloekwoorde nie. Ek het ook geen behoefte om te leer hoe om te vloek in Koreaans nie, so anders as meeste mense wat eerste die vloekwoorde optel in 'n ander taal was dit nie die geval met my nie. Dit help ook seker dat die tipe mense met wie ek myself omring nie baie vloekwoorde gebruik nie. Ondanks my persoonlike aversie in vloekwoorde, dink ek dit is tog nodig om basiese vloekwoorde te verstaan sodat jy darem bewus is wanneer iemand jou vloek.

In Koreaans is die meeste vloek woorde gebou rondom fok, piel, en babadier. Die penisvloekwoorde is die snaakste, so ek los hulle vir laaste.

Fok is ssibal / 씨발. Terloops, die uitspraak vir die nommer 18 is dieselfde, so wees versigtig om hierdie nommer te sê buite 'n baie spesifieke konteks.

Om vir 'n man te sê "fok jou" sê: Ssibal nom / 씨발 놈. En vir 'n vrou sê jy ssibal nyeon: 씨발년.

'n Slegte belediging in Koreaans is om vir iemand te sê dat hy 'n baba-diertjie is. Ek weet, in Afrikaans klink dit heel oulik om iemand aan te spreek as hondjie, katjie, varkie, of kuikentjie. Maar nie so in Koreaans nie. 'n Babadiertjie in Koreaans is saekki / 새끼, en word "sêkkie" uitgespreek.

Jy kan byvoorbeeld iemand beledig deur te sê dat hy 'n vuil of onrein babadiertjie is: jijeonbunhan saekki / 지저분한 새끼. Deur te sê dat hy vuil of onrein is, impliseer jy dat hy is 'n vark.

Jy kan iemand beledig met byeontae saekki / 변태 새끼. Byeontae beteken perverse, so om iemand 'n perverse dier te noem, is seker om daardie persoon met 'n jagse hond te vergelyk, soortgelyk aan "teef" in Afrikaans.

Daar is 'n klomp variasies op die saekki-belediging. Die belangrike ding is om te weet dat as iemand iets vir jou sê wat saekki insluit, dat hulle jou waarskynlik vloek. 'n Koreaan het my eenkeer uit die bloute gebel en begin vloek. Ek weet nou nog nie wat sy motief was nie, maar ten minste kon ek die foon neersit omdat ek die term "saekki" erken het en dus geweet het dat dit nie 'n beleefde oproep was nie.

Vir my is die penisvloekwoorde die snaakste. Piel, in Koreaans, is jot / 좆. In Afrikaans sal 'n mens dit uitspreek as "djot". Een belediging is jotkka / 좆까. Die agtervoegsel -kka kom van die werkwoord kkahada / 까하다 en kommunikeer 'n intensie -- dat jy beplan om iets te doen. 'n Mens kan jotkka vertaal as "Ek gaan jou piel iets verskrikliks aandoen," soos om jou tussen die bene te skop. Dit is 'n beledigende waarskuwing en word verstaan soortgelyk aan die Afrikaanse "fokof".

Jy kan iemand beledig deur hulle te vergelyk met 'n penis. Jot kateun nom / 좆 같은 놈 aan 'n man of vir 'n vrou, jot kateun nyeon / 좆 같은 년. Jy kan dit in Afrikaans vertaal as: "Jy lyk presies soos 'n piel."

Nog 'n penisverwante belediging is jib-e kaseo ddalddalina cheo / 집에 가서 딸딸이나 쳐! Dit kan vertaal word as "Gaan huistoe en tos!"

'n Verdere snaakse belediging wat ek graag wil noem, soort gelyk aan die Afrikaanse "Word groot!"-uitlating, is gaseo eomma jeotina deo meokko wa / 가서 엄마 젖이나 더 먹고 와! Dit kan vertaal word as "Gaan drink eers jou ma se moedersmelk ek kom dan terug!"

Ten laaste, hoe om te sê "Gaan dood!": dwe jyeo beoryeo / 뒈져 버려!

Indien jy iemand vloek, is dit belangrik om te weet hoe om jammer te sê. Dus kan so 'n skrywe soos hierdie  nie voltooi wees sonder 'n paar uitdrukkings om onverskoning te vra nie.

"Ek's jammer.": Mi-an hamnida / 미안합니다 

"Ek is jammer vir wat ek gesê het": Geuron mareul hayeo hyhwehako itda / 그런 말을 하여 후회하고 있다.

"Ek was verkeerd. Vergewe my asseblief": Jalmoshi isseunmyeon yongseohashi-o / 잘못이 있으면 용서하시오.

Thursday 21 October 2010

Misgis vir 'n Koreaner

Twee dae terug het ek 'n lekker ervaring gehad. Ek het gestaan en wag by die moltreinplatvorm vir die trein om te kom toe 'n ou Koreaanse oom my kom vra hoe om van die huidige stasie na 'n ander stasie te kom. Ek verduidelik toe aan hom dat hy twee stasies daarvandaan moet oorskuif na 'n ander lyn, waarvandaan hy na sy gekose stasie kan gaan. Hy vra my toe of hy in die regte rigting gaan, ek antwoord toe nee, en sy toe aan hom dat hy "on the other side" moet wees. Ek weet nie hoe om "aan die anderkant" in Koreaans te sê nie, so toe sê ek dit maar in Engels. Dis eers toe ek dit sê dat die oom op kyk en sien dat ek nie Koreaans is nie. Hy was baie verbaas en het gelag toe hy uitroep -- "jy's nie 'n Koreaner nie!" 

Ek het dit geniet om met my karige Koreaans genoegsaam te kon kommunikeer dat iemand vir 'n oomblik my as 'n Koreaner misgis het. Ek neem aan die oom was bietjie bysiende / versiende (?), die dan dat hy my misgis het vir 'n Koreaner. Ons het ook die meerderheid van die gesprek na sy moltreinlynkaart gekyk.

Sunday 26 September 2010

-있습니다 [Bestaan] / 업습니다 [Bestaan-Nie]

In my vorige skrywe het ek die aandag gevestig op hoe belangrik die werkwoord in Koreaans is. Een van die belangrikste werkwoorde wat ek redelik gereeld gebruik is -있습니다 / -isseumnida (formele vorm) of -있서요 / -isseoyo (gewone vorm). (Die basisvorm is 있다 / itda.)

Hierdie werkwoord verklaar die bestaan of teenwoordigheid van iets. Byvoorbeeld, as ek na 'n winkel toe gaan en vra of 'n hulle 'n bepaalde produk het, kan hulle bevestigend antwoord: 내, 있서요 / Nae, isseoyo -- "Ja, [dis] teenwoordig."

Die afwesigheid of nie-bestaan van iets word uitgedruk met die werkwoord 없습니다 / 없어요 -- obseumnida / obseyo. (Die basisvorm is 없다 / obtda.) Indien die produk waarvoor ek gevra het nie beskikbaar is in die winkel nie kan die klerk eenvoudig antwoord 없습니다; met ander woorde, "[Dit] bestaan nie."

So hoe gebruik ek hierdie werkwoorde met 'n subjek in die sin? In Koreaans word die subjek van die sin aangedui deur 'n agtervoegsel aan die subjek/selfstandigenaamwoord te voeg: -이 (word "ie" uitgespreek) vir 'n woord wat met 'n konsonant eindig en -가 (word "gha" uitgespreek) vir 'n woord wat met 'n vokaal eindig.

Veronderstel ek wil weet of die winkels piesangs het. Piesangs in Koreaans is "banana" 바나나 (byna soos in Engels) en omdat dit met 'n vokaal eindig gaan ek die subjekagtervoegsel -가 byvoeg:

바나나가 있습니까? Bananagha isseumnikka? (Formele vorm)
바나나가 있어요? Banangha isseoyo? (Gewone vorm)

Direk vertaal beteken die bostaande sinne "Piesang[s], bestaan?" 'n Gekontekstualliseerde vertaling sal wees: "Is hier piesangs?" of "Het julle piesangs?"

Die klerk kan dan in die negatief antwoord 없어요, "[Piesangs] bestaan nie" of positief: 있습니다 / "[Piesangs] bestaan," met ander woorde, "Nee, ons het nie piesangs nie" of "Ja, ons het piesangs." Let dat dit nie nodig is om die woord 바나나가 / piesangs in die antwoord in te sluit nie omdat dit uit die konteks afgelei word wat die onderwerp van die sin is.

Die -이/가 있늡니다, -이/가 없습니다 vorm is baie belangrik omdat 'n mens dit byna konstant gebruik in jou daaglikse omgaan.  Wanneer jy 'n bepaalde produk soek, of as jy wil weet of daar varkvleis in die dis is wat jy wil bestel, of om te verneem of 'n student teenwoordig is, of om te verklaar dat iemand nie 'n brein het nie, is hierdie vorm van kardinale belang.

Sunday 22 August 2010

Alles gaan om die werkwoord

Ek is terug vanaf my vakansie en het weer bietjie tyd om op Koreaans te fokus. Hierdie skrywe gaan nie juis fokus op wat ek tans besig is om te leer nie, maar 'n begrip wat ek reeds redelik onder die knie het -- die belangrikheid van die Koreaanse werkwoord..

Ek het vroeg in my omgang met Koreaans besef dat dit is die werkwoord wat die kern van enige sin is. In 'n Afrikaanse of Engelse sin is dit die subjek-werkwoordkombinasie wat belangrik is. Daar moet iets wees wat iets doen. In Koreaans hoef die subjek (of objek) nie noodwendige genoem te word nie. 'n Sin is heeltemal korrek deur slegs 'n werkwoord te hê. 'n Sin soos "hamnida" ( 합니다 ) is heeltemal aanvaarbaar. 합니다 beteken basies doen.

Veronderstel ek's in die kombuis en jy is in die kamer en jy hoor iemand die skottelgoed was. Veronderstel jy roep uit die kamer en vra "Wie was die skottelgoed?" In hierdie geval kan ek bloot antwoord 합니다 / doen. Uit die konteks sal enige Koreaner aflei dat dit ek (subjek) is wat die skottelgoed (objek) was / doen (werkwoord). Jou oorspronklike vraag "Wie was die skottelgoed?" is in Koreaans waarskynlik te bonkig. Dit is moontlik beter om eenvoudig te vra 합니까? (doen?). As ek 'n Koreaner is sal ek uit die "doen?" aflei dat jy vra wie besig is om wat (skottelgoed) te doen / was. Ek kan dan antwoord met 합니다 (doen) of indien ek bietjie meer spesifiek wil wees "na-neun hamnida" 나는 합니다 (ek doen).

Die werkwoord is die belangrikste deel van enige sin en kom aan die einde van die sin. Indien ek enige ekstra inligting wil noem, plaas ek dit voor die werkwoord in die sin.

Veronderstel ek wil sê dat ek doen iets, byvoorbeeld ek studeer, sal ek in Koreaans sê: "studies doen" 공부 합니다. Let dat die subjek is absent. Dis nie nodig om te noem dat ek studies doen nie. Dit word uit die konteks afgelei. Dalk wil ek die sin uitbrei deur te noem wat? ek studeer. Ek kan dan bloot "Koreaans" vooraan my sin voeg sodat dit "Koreaans studies doen" lees: 한국말을 공부 합니다. Miskien wil ek byvoeg waar? ek die studies doen -- in 'n instituut / "hagwon": "Instituut-by Koreaans studies doen" 하관서 한국말을 공부 합니다.

'n Interesante ding is dat buiten vir die werkwoord is die orde van die ander inligting nie juis belangrik nie. Ek kan bywoord die orde vanaf "Instituut-by Koreaans studies doen" na "Koreaans studies instituut-by doen" verander sonder dat die betekenis substansiëel verander. Die basiese beginsel is dat die werkwoord die belangrikste deel is en dat dit altyd aan die einde van die sin kom. Dit impliseer ook dat hoe nader die inligting aan die werkwoord is, hoe belangriker ag ek die inligting. In my twee sinvoorbeelde hierbo is die feit dat ek Koreaans leer meer belangrik in die eerste geval en die feit dat ek dit by 'n instituut leer meer belangrik in die tweede geval.

Wednesday 28 July 2010

Dankie tog vir woordeboeke

Ek het selde met Koreane te doen wat minder Engels kan praat as wat ek Koreaans kan praat. Gewoonlik het die meeste Koreane 'n effe groter Engelse woordeskat as wat ek 'n Koreaanse woordeskat het. Dit beteken dat alhoewel baie Koreane nie Engels kan praat nie, kan ek myself darem laat verstaan word, deur Engelse woorde tussen my geëikte Koreaanse frases te sprinkel. Vandag was anders.

Vandag moes ek gaan besigheid doen met 'n man watse Engelse begrip sowaar minder is as my Koreaanse begrip. Op 'n skaal van een tot tien is ek seker twee, neig na drie. Hierdie man se Engelse vermoë is skaars 'n een. Nietemin, met handgebare en my selfoon (wat 'n handige Engels-Koreaanse woordeboek op het), kon ons mekaar darem genoegsaam verstaan om die transaksie te voltooi en so bietjie "small talk" te hê wat nodig is vir toekomstige besigheid.

Ek het aan hom genoem dat ek graag weer in November 'n herhaling van ons besigheidstransaksie wil hê en hom verseker dat ek gaan my Koreaans verbeter teen dan. Hy het ook belowe om soortgelyk aan sy Engels te werk.

Die laaste ruk was ek, om eerlik te wees, nie so gemotiveerd om Koreaans te leer soos 'n ruk gelede nie. My Koreaanse vermoeë is "Survival Korean" en is goedgenoeg om met redelike gemak in Korea oor die weg te kom. Ek kan in die winkels vir pryse vra, ek kan kos in restaurante bestel, ek kan die taxi-drywer aansê waarheen om my te neem. Dis genoeg om te oorleef in Korea.

Maar dis nie genoeg om besigheid te doen nie. Vandag se interaksie het my weer lus gegee om Koreaans te leer. Dit het my weer 'n rede gegee. Ongelukkig is dit slegte tydsberekening omdat ek volgende week op vakansie gaan. Nietemin, my boeke lê op my lessenaar, gereed vir my om weer aan die studeer te kom.