Sunday 22 August 2010

Alles gaan om die werkwoord

Ek is terug vanaf my vakansie en het weer bietjie tyd om op Koreaans te fokus. Hierdie skrywe gaan nie juis fokus op wat ek tans besig is om te leer nie, maar 'n begrip wat ek reeds redelik onder die knie het -- die belangrikheid van die Koreaanse werkwoord..

Ek het vroeg in my omgang met Koreaans besef dat dit is die werkwoord wat die kern van enige sin is. In 'n Afrikaanse of Engelse sin is dit die subjek-werkwoordkombinasie wat belangrik is. Daar moet iets wees wat iets doen. In Koreaans hoef die subjek (of objek) nie noodwendige genoem te word nie. 'n Sin is heeltemal korrek deur slegs 'n werkwoord te hê. 'n Sin soos "hamnida" ( 합니다 ) is heeltemal aanvaarbaar. 합니다 beteken basies doen.

Veronderstel ek's in die kombuis en jy is in die kamer en jy hoor iemand die skottelgoed was. Veronderstel jy roep uit die kamer en vra "Wie was die skottelgoed?" In hierdie geval kan ek bloot antwoord 합니다 / doen. Uit die konteks sal enige Koreaner aflei dat dit ek (subjek) is wat die skottelgoed (objek) was / doen (werkwoord). Jou oorspronklike vraag "Wie was die skottelgoed?" is in Koreaans waarskynlik te bonkig. Dit is moontlik beter om eenvoudig te vra 합니까? (doen?). As ek 'n Koreaner is sal ek uit die "doen?" aflei dat jy vra wie besig is om wat (skottelgoed) te doen / was. Ek kan dan antwoord met 합니다 (doen) of indien ek bietjie meer spesifiek wil wees "na-neun hamnida" 나는 합니다 (ek doen).

Die werkwoord is die belangrikste deel van enige sin en kom aan die einde van die sin. Indien ek enige ekstra inligting wil noem, plaas ek dit voor die werkwoord in die sin.

Veronderstel ek wil sê dat ek doen iets, byvoorbeeld ek studeer, sal ek in Koreaans sê: "studies doen" 공부 합니다. Let dat die subjek is absent. Dis nie nodig om te noem dat ek studies doen nie. Dit word uit die konteks afgelei. Dalk wil ek die sin uitbrei deur te noem wat? ek studeer. Ek kan dan bloot "Koreaans" vooraan my sin voeg sodat dit "Koreaans studies doen" lees: 한국말을 공부 합니다. Miskien wil ek byvoeg waar? ek die studies doen -- in 'n instituut / "hagwon": "Instituut-by Koreaans studies doen" 하관서 한국말을 공부 합니다.

'n Interesante ding is dat buiten vir die werkwoord is die orde van die ander inligting nie juis belangrik nie. Ek kan bywoord die orde vanaf "Instituut-by Koreaans studies doen" na "Koreaans studies instituut-by doen" verander sonder dat die betekenis substansiëel verander. Die basiese beginsel is dat die werkwoord die belangrikste deel is en dat dit altyd aan die einde van die sin kom. Dit impliseer ook dat hoe nader die inligting aan die werkwoord is, hoe belangriker ag ek die inligting. In my twee sinvoorbeelde hierbo is die feit dat ek Koreaans leer meer belangrik in die eerste geval en die feit dat ek dit by 'n instituut leer meer belangrik in die tweede geval.