Sunday 26 September 2010

-있습니다 [Bestaan] / 업습니다 [Bestaan-Nie]

In my vorige skrywe het ek die aandag gevestig op hoe belangrik die werkwoord in Koreaans is. Een van die belangrikste werkwoorde wat ek redelik gereeld gebruik is -있습니다 / -isseumnida (formele vorm) of -있서요 / -isseoyo (gewone vorm). (Die basisvorm is 있다 / itda.)

Hierdie werkwoord verklaar die bestaan of teenwoordigheid van iets. Byvoorbeeld, as ek na 'n winkel toe gaan en vra of 'n hulle 'n bepaalde produk het, kan hulle bevestigend antwoord: 내, 있서요 / Nae, isseoyo -- "Ja, [dis] teenwoordig."

Die afwesigheid of nie-bestaan van iets word uitgedruk met die werkwoord 없습니다 / 없어요 -- obseumnida / obseyo. (Die basisvorm is 없다 / obtda.) Indien die produk waarvoor ek gevra het nie beskikbaar is in die winkel nie kan die klerk eenvoudig antwoord 없습니다; met ander woorde, "[Dit] bestaan nie."

So hoe gebruik ek hierdie werkwoorde met 'n subjek in die sin? In Koreaans word die subjek van die sin aangedui deur 'n agtervoegsel aan die subjek/selfstandigenaamwoord te voeg: -이 (word "ie" uitgespreek) vir 'n woord wat met 'n konsonant eindig en -가 (word "gha" uitgespreek) vir 'n woord wat met 'n vokaal eindig.

Veronderstel ek wil weet of die winkels piesangs het. Piesangs in Koreaans is "banana" 바나나 (byna soos in Engels) en omdat dit met 'n vokaal eindig gaan ek die subjekagtervoegsel -가 byvoeg:

바나나가 있습니까? Bananagha isseumnikka? (Formele vorm)
바나나가 있어요? Banangha isseoyo? (Gewone vorm)

Direk vertaal beteken die bostaande sinne "Piesang[s], bestaan?" 'n Gekontekstualliseerde vertaling sal wees: "Is hier piesangs?" of "Het julle piesangs?"

Die klerk kan dan in die negatief antwoord 없어요, "[Piesangs] bestaan nie" of positief: 있습니다 / "[Piesangs] bestaan," met ander woorde, "Nee, ons het nie piesangs nie" of "Ja, ons het piesangs." Let dat dit nie nodig is om die woord 바나나가 / piesangs in die antwoord in te sluit nie omdat dit uit die konteks afgelei word wat die onderwerp van die sin is.

Die -이/가 있늡니다, -이/가 없습니다 vorm is baie belangrik omdat 'n mens dit byna konstant gebruik in jou daaglikse omgaan.  Wanneer jy 'n bepaalde produk soek, of as jy wil weet of daar varkvleis in die dis is wat jy wil bestel, of om te verneem of 'n student teenwoordig is, of om te verklaar dat iemand nie 'n brein het nie, is hierdie vorm van kardinale belang.

No comments:

Post a Comment