Friday 29 April 2011

Opgewonde

Ek is sommer opgewonde omdat ek vandag 'n taxi-bestuurder redelike ingewikkelde instruksie gegee het, en hy my gemaklik verstaan het. Dis geensins vreemd vir my om aanduidings vir taxi-bestuurders te gee nie, maar vandag se instruksies was baie meer ingewikkeld as wat ek al ooit van te vore gegee het. Gewoonlik sê ek eenvoudig vir die taxi-bestuurder waarheen ek wil gaan. Dis 'n eenvoudige sinskonstruksie: pleknaam + gaan + wil hê asseblief: X ga-joosseyo.

Vanmiddag se uitspraak was baie meer kompleks. Ek het aan die taxi-bestuurder verduidelik dat ek na twee punte toe wil gaan. Eerstens moet ons iemand gaan optel op 'n spesifieke plek (by 'n sekere treinstasie, by die universiteit se kampusbushalte) en daar vandaan kan ons na die eindbestemming toe gaan. Die proses het vereis dat ek nie bloot 'n eenvoudige sin maak nie, maar 'n gekombineerde sin -- vermoedelik my eerste gekombineerde sin in Koreaans. Met my suksesvolle kommunikasie is ek sommer weer opnuut geïnspireer om my trae studie van Koreaans meer ernstig op te neem. Die sinskonstruksie en gepaartgaande woordeskat is iets wat ek slegs hierdie afgelope week of twee geleer het en nou van gebruik gemaak het.

Ek dink hierin lê die sukses van 'n ekstra taal aanleer -- wanneer jy dit met sukses gebruik, motiveer dit jou om dit nog meer te gebruik en meer te leer. Dis daardie gevoel van suksesvolle toepassing wat 'n mens motiveer om aan te hou. Ondanks my Koreaans nog baie beperk en elementêr is, is dit lekker om die bietjie vermoë wat ek wel het, uit te toets.

1 comment: