Wednesday 28 July 2010

Dankie tog vir woordeboeke

Ek het selde met Koreane te doen wat minder Engels kan praat as wat ek Koreaans kan praat. Gewoonlik het die meeste Koreane 'n effe groter Engelse woordeskat as wat ek 'n Koreaanse woordeskat het. Dit beteken dat alhoewel baie Koreane nie Engels kan praat nie, kan ek myself darem laat verstaan word, deur Engelse woorde tussen my geëikte Koreaanse frases te sprinkel. Vandag was anders.

Vandag moes ek gaan besigheid doen met 'n man watse Engelse begrip sowaar minder is as my Koreaanse begrip. Op 'n skaal van een tot tien is ek seker twee, neig na drie. Hierdie man se Engelse vermoë is skaars 'n een. Nietemin, met handgebare en my selfoon (wat 'n handige Engels-Koreaanse woordeboek op het), kon ons mekaar darem genoegsaam verstaan om die transaksie te voltooi en so bietjie "small talk" te hê wat nodig is vir toekomstige besigheid.

Ek het aan hom genoem dat ek graag weer in November 'n herhaling van ons besigheidstransaksie wil hê en hom verseker dat ek gaan my Koreaans verbeter teen dan. Hy het ook belowe om soortgelyk aan sy Engels te werk.

Die laaste ruk was ek, om eerlik te wees, nie so gemotiveerd om Koreaans te leer soos 'n ruk gelede nie. My Koreaanse vermoeë is "Survival Korean" en is goedgenoeg om met redelike gemak in Korea oor die weg te kom. Ek kan in die winkels vir pryse vra, ek kan kos in restaurante bestel, ek kan die taxi-drywer aansê waarheen om my te neem. Dis genoeg om te oorleef in Korea.

Maar dis nie genoeg om besigheid te doen nie. Vandag se interaksie het my weer lus gegee om Koreaans te leer. Dit het my weer 'n rede gegee. Ongelukkig is dit slegte tydsberekening omdat ek volgende week op vakansie gaan. Nietemin, my boeke lê op my lessenaar, gereed vir my om weer aan die studeer te kom.

No comments:

Post a Comment